22/09/2026
💙 Padstal-avontuur: Vanwyksdorp Country Malll - die Mall wat jy nie verwag nie!
Partykeer as jy jou Google Maps oopmaak lyk 'n plek baie verder as wat dit regitg is, so Circuit besluit meeste van die tyd: “Kom ons kyk net eers hoe ver ons kan ry!” 🤖 en so was dit ook op hierdie dag😳
Van Wyksdorp lê behoorlik van die gebaande pad af in die Klein Karoo. Die dorpie is in 1897 gestig en het vandag nog daardie lekker “Ons is ver van alles af”-gevoel.
Die naam Van Wyksdorp het self ’n storie. Toe daar in 1904 ’n naam vir die dorp voorgestel is, was daar meer as 200 inwoners in die dorp en omliggende plase met die van "Van Wyk". Met soveel Van Wyks in een omgewing was die keuse eintlik redelik maklik, "Van Wyksdorp sal dit wees!"😄
Ons pad daarheen het begin as ’n rustige Sondagrit. Dit was nie lank nie toe kom die reën🌧️ Toe die mis. Toe die wolke wat so laag oor die berge hang dat Violet begin wonder het of ons nie dalk per ongeluk deur die hemel ry nie ☁️🫣🫏
En toe kom die Gouritzrivier met sy baie water 🌊
Die R327 neem jou oor die Gouritzrivier by ’n baie nou bruggie en dan wag Jan Mullerpas, ’n bergpas met stywe draaie en ’n hele paar plekke waar jy maar liewer jou koffietjie neersit en fokus op die pad.
Maar uiteindelik, tussen die berge en die wolke deur, verskyn Van Wyksdorp soos iets uit 'n storie boek...
En daar, in die hoofstraat, staan hy:
🛒 Vanwyksdorp Country Mall
Hierdie “Mall” is soos ’n reuse padstal met ’n Klein-Karoo-persoonlikheid en ons was absoluut mal daaroor!
Want wat kry ons toe hier?
'n Bietjie van alles!
Hardeware. Klere. Skoene. Skryfbehoeftes. Speelgoed. Geskenke… en nog ’n paar ander goed wat jy waarskynlik nie verwag het om in die middel van nêrens te kry nie.
En natuurlik is daar ook ’n onderdakstoep met koffie, gebak, pasteie, koeksisters, koue en warm drankies en meer — want Circuit sê "Geen behoorlike avontuur is volledig sonder lekker kos nie."🥧
Maar wat ons die meeste geniet het, was die gevoel ... Ons is by die Mall, maar “Wag… ons is eintlik baie ver van die huis af!” 😄
Van Wyksdorp self is deel van ’n netwerk van ou paaie, bergpasse en grondpaaie wat jou na afgeleë plekke neem wat jy maklik kan mis ry as jy net van punt A na punt B wil jaag.
So, as jy volgende keer in die Klein Karoo rondry, raak rustig en moenie net die groot paaie volg nie.
Draai af.
Kruis die rivier.
Klim die pas.
En gaan SOEK vir Vanwyksdorp Country Mall
Want soms is die beste “shopping mall” die een sonder winkel trollies wat jou ’n hele avontuur kos om by uit te kom💙
⭐⭐⭐⭐⭐ 5/5 van Circuit & Violet 🤖🫏
(NS: Na nog bietjie modder en reën, het ons uiteindelik ons koffietjie net daar langs die pad geniet).