04/09/2026
SWYS OP PAD BOISHAAI TOE!
Swys de Bruin is op pad na Hoër Jongenskool Paarl en dit is moeilik om aan ’n beter en groter aanstelling in Suid-Afrikaanse skolerugby te dink!
Swys en Boishaai pas mekaar soos 'n handskoen. Hy is ’n man wat rugby verstaan maar, dalk nog belangriker, mense verstaan. Hy is ’n onderwyser van die spel, ’n karakterman en iemand met ’n besonderse vermoë om spelers te laat glo in wat hulle doen. Daardie kombinasie van rugby-intelligensie, persoonlikheid, tradisie en ’n liefde vir aanvallende rugby vergestald die Boishaai-kultuur.
Swys se CV praat vanself. Hy was ’n sleutelfiguur in die merkwaardige herlewing van die Leeus, wat drie opeenvolgende Superrugby-eindstryde gehaal het, voordat hy self die hoofafrigter geword het. Hy was ook deel van Rassie Erasmus se Springbok-opset as aanvalspesialis en het oor dekades heen op skool-, akademie-, provinsiale en internasionale vlak afgerig.
Sy jongste hoofstuk was dalk een van sy indrukwekkendstes. Onder De Bruin het die Springbokvroue in 2025 vir die eerste keer ooit die kwarteindronde van ’n Wêreldbeker gehaal.
Vir Boishaai gaan dit oor veel meer as ’n groot naam. Die Blou Skool kry ’n wêreldklas rugbyman op ’n plek waar rugby nog diep in die hart van 'n skool leef. Swys kry op sy beurt weer die geleentheid om jong spelers te vorm.
Rugby is behoorlik in die De Bruin-bloed. Swys se seun Neil de Bruin was juis Boishaai se direkteur van rugby voordat hy einde verlede jaar Paarl verruil het vir Loftus, waar hy nou as aanvals- en agterlyn-afrigter deel van Johan Ackermann se Bulls-afrigtingspan is. Neil en Ackermann se pad kom boonop ’n lang ent saam — hulle het ook vir etlike seisoene saam in Japan afgerig. Sy ander seun, Jamie de Bruin, het eweneens diep afrigtingswortels en is tans by Boland Landbou, nadat sy afrigtingspad hom onder meer deur Wits se Varsitybeker-opset geneem het.
Nou is Pa Swys op pad na dieselfde Boishaai waar Neil sy merk gemaak het.
Die De Bruins is ’n merkwaardige rugbyfamilie wat op drie verskillende fronte steeds jong spelers én topvlak-rugby help vorm.
Boishaai kry dekades se kennis, vernuf en karakter. As ons in die Paarl ’n bietjie mag spog: hierdie is nie sommer net ’n nuwe afrigter nie. Hierdie kan ’n besondere nuwe hoofstuk in Boishaai-se geskiedenis wees.
deur Div Viljee